Stories

My pa het altyd die interessantste stories gehad – avonture in ‘n tyd wat verbygegaan het, ‘n tyd wat niemand ooit weer kan beleef nie; netso my ma en haar baie besonderse Falck familie.

As die 11 Falck broers en susters en hulle gesinne bymekaargekom het, is daar gegons en gesels en die een wedervaring na die ander is opgediep, afgestof en met smaak weer beleef.

Nou is die nefies en niggies die storievertellers – van hulle ouers se avonture, maar ook hulle eie.

Ek het altyd vaal gevoel tussen hierdie groot groep kleurvolle karakters. Watter stories kan ek eendag vir my kinders vertel? Watter avonture het ek beleef? Dit my gevoel daar is niks nie.

En tog. “Skryf al Ma se stories neer voor Ma vergeet”, het my jongste dogter gesê. As ek nou terugkyk op my bloggie, sien ek: ek het ook stories! Ek het wél heelwat avonture beleef- en die helfte is nog nie vertel nie. En ja, baie is ook in die goeie ou tyd wat nie meer bestaan nie.

Elke mens se lewe is ‘n storie, het ons al dikwels gehoor. Dit is so waar.

Moet dus nie vaal voel nie. Moenie die klein insidente in die lewe miskyk nie. Dit is die goed wat die lewe interessant maak; wat jou laat lag; wat jou laat huil;  ; wat jou familiegeskiedenis oordra van geslag tor geslag;  wat jou gesin en familie saambind; wat jou kinders kan vertel as hulle bymekaarkom; wat jou lewenswaarhede leer;  wat jou herinner aan vervloë jare; wat jou ryper maak en meer volledig mens.

En as jy hierdie stories skryf, is daar moontlik iemand anders daarbuite wat dit ook sal waardeer.

Die afgelope paar dae het ek nog ‘n paar stories onthou wat nog vertel moet word – voor ek vergeet. Die skryfgogga het weer gebyt. Laat ons hoop dat ek tyd sal kry.

En aan my medebloggers – as julle nie besig is om moorde op te los, te werk of in die Rebusdam rond te plas nie, skryf julle stories! Voor julle vergeet!

Hier word groot stories vertel. Een vd wonderlike aande op Rus’nBietjie se stoep.

Posted in feeverhale en ander stories, goue vroue, kraters en ander skandes (humor), Los opdrifsels | Tagged , , , | 16 Kommentaar

Knope en Moord in die Overberg

(Hierdie is die eerste deel van ‘n Nuwe avontuur vir die Goue Vroue. Daar is n moord gepleeg. Daar is n pragtige meisie. Daar is…. Om hierdie vervolgverhaal te volg, klik hier.

https://fresh.inlinkz.com/p/54c7705c5c9f46fa95a041857eac2e89

Seegogga klim met moeite in haar hangmat. Sy weet sy moet die Goue Vroue om verskoning vra. Hulle sit oorgehaal vir haar en wag. Wag vir ‘n Nuwe Avontuur. Nuwe Lewe, Nuwe Storie. En dis sy wat dit voorgestel het, maar hier lê sy nou leë hande, leë kop, leë blog.

Knope

“Nou wat is dan die probleem, Seegogga,” vra Una simpatiek. “Die meisie was hier  in my gastehuis in Mosambiek– alléén! En ons weet nie wat gebeur het nie!  Want hulle het vir twéé bespreek!”

“Knope”, sê Seegogga en sug.

‘Knope?” Frannie frons.

“Duisende en duisende knope!” sug Seegogga.

Die Goue Vroue kyk bekommerd na Seegogga.

“Is sy besig om haar varkies te verloor?” vra Woordnoot saggies vir Toortsie.

Toorts, Trommeltjies en Aalsie begin lag. “ek het hulle gesien,” sê Trommels. “Duisende!”

“Nee, sy was maar altyd so ‘n bietjie…, maar hierdie keer is dit die VLV  wat haar op kommandeer het!” lag Toortsie

‘Ek moet ‘n prent met knope maak!” blaker Seegogga dit uit. “Het julle al so-iets laf gehoor? En dis nie al nie. Ek moet die ander Vlv mense leer om dit te doen, en ek het dit self nog nooit gedoen nie. EN DIS NIE AL NIE! Ek moet op die inligtingsdag vir die hele Overberg knoopbehebtes gaan staan en inligting gee en tegnieke en moets en moenies oor knope kuns – oor iets wat ek self nog nooit gedoen het nie. En om knope te kan plak moet jy knope hê – duisende en duisende…en

“ Hulle moet uitgesorteer word volgens kleur, “ las Trommels.

“Want ons weet Seegogga kan dit doen” sê Aalsie vrolik en sonder enige skuldgevoel. Sy is mos op die VLV bestuur en hulle het so onder mekaar besluit om Seegogga in die werk te steek.

“Nou weet julle” sug Seegogga. “ Maar wag, iets anders:  het Frannie nie Amerikaanse Burger geword nie?”

Die towerinne lag en gesels en wens vir Frannie geluk. Nou woon twee Goue Vroue in Amerika, een in die Ooste, een in Nieu Zeeland, een in Mosambiek en die ander in Suid Afrika. Frannie haal haar vrugtekoek uit. Una skink vir elkeen ’n wyntjie.

“Gelukkige nuwe jaar! “ Toortsie  lig haar glasie.

“Lank lewe die Goue Vroue!”

Seegogga se selfoon se liggie flikker. Sy kyk na die skermpie en frons. “Julle,  ons het ‘n probleem. Daar is ‘n lyk ontdek! In ‘n gastehuis  in die Overberg. En hy is vermoor. En sy verloofde het verdwyn”

“Ag nee”, sê Aalsie. ”Daar gebeur mos nie sulke goed in die Overberg nie!”

Una word bleek. “ Die meisie wat alleen na ons toe gekom het… sy was verloof. Dink julle….”

“Ek dink ons moet ondersoek instel. Ek sal solank ‘n inlinks skep. Seegogga, vind asseblief uit wat gebeur het. Una, vind bietjie meer uit oor die meisie.” Toortsie is dadelik saaklik.

 Die Goue vroue vergeet om hulle wyn te drink. Elkeen is besig met haar eie gedagtes. Volgende week gaan almal saam met Seegogga, Toorts, Trommels, Aalsie en Appeltjie Overberg toe. Die moord moet opgelos word sodat die Overbergers weer kan onspan.

Seegogga dink aan haar knope. Sy sal dubbelspoed moet werk, want as die Goue vroue eers hier is….

Posted in goue vroue, Los opdrifsels, rhebusfontein | Tagged , , | 28 Kommentaar

Kersfees op Rebus

Seegogga lê uitgeput op haarhangmat op die bont stoep van haar blou Rebushuisie. Dit was ‘n lang jaar van woel en werskaf. Sy was so lanklaas hier op Rebusfontein.

Sy hoop die ander GoueVroue kom ook. Sy het ‘n outydse skaapboud met braaiaartappels en groente ingepak, Trommels vol liefde en vrede en vars bessiesap wat sy met haar masjientjie maak. Ook het sy ‘n blom vir elke GoueVrou wat hulle in hulle hare kan sit.

Seegogga lê nog so en dink, toe Lolla aangewals kom. Om haar is groot bolle pienk en wit en blou spookasem. ‘n Ligte windjie tel haar op en sweef-sweef kom sy tot op Seegogga se stoepie. Sy lyk sowaar soos ‘n pienk pokkelfeetjie!

“Waar is jou rooi rokkie?” raas sy gemaak kwaai met Seegogga. “Dis tyd vir fees hou!”

“Sjoe jy is vinnig, Lolla! Maar hier is jou rooi bessiesap solank.”

Seegogga gaan spring gou in haar rooi rokkie in, sit ‘n blom in haar hare, en rooi op haar lippe. Die moeg het verdwyn. , Dis partytjietyd op Rebus!

“Kyk! Hier kom Woordnoot ook aangesweef!”

Die volgende oomblik skitter al die bome met die pragtigste liggies. Dit lyk soos ‘n sprokieswêreld so mooi.

Die eetgoed word uitgepak. Heerlike kaas en selfs Seegogga se staatmaker baconrolletjies.

“Daar kom Una en Frannie ook aan!”

Die GoueVroue gaan weer heerlik op Rebus kuier.

Seegogga stem saam met Lolla. Almal is so spesiaal. Die Here het hulle almal so mooi gemaak.

Sy bid vir almal die Rus toe wat net kan kom as jy veilig in Jesus se arms is. Sy bid hulle vrede toe en goddelike liefde en sy vra dit ook sommer vir die res van die wereld.

Geseënde Kersfees!

8 Kommentaar

Aandag! standardiseer rekenaars en selfone!

So breek my laptop mos so ‘n maand gelede.

En ek kry ‘n nuwe laptop.

En hy is Grieks!

Ek weet nie waar is my files nie, my foto’s is toe in ”folders”, Daar waar die aanhalingstekens moet wees, is die @ en daar waar die @ moet wees, is die “. My nefie het die reggestel. Die ding moet South African English praat, nie Uk English nie. Die Britte is nie meer ons heersers nie. NOU HOEKOM IS HY VANNAAND WEER OP BRITSE ENGELS?

Sy skrif is so klein ek kan dit nie lees nie, Ek moes hom op 110% stel en glo ek sal dit more weer moet doen, en niks is cool nie, behalwe sy spoed.

Hy is vinnig! Jippie! Ek hoop ek leer hom eendag ken. Maar hoekom moet mens elke keer so sukkel? Waarom standardiseer hulle nie die goed nie? Waarom kan almal nie dieselfde chargers het met dieselfde punte nie, en waarom kan alle printers nie sommer op dieselfde manier met die laptops praat nie en waarom …..

Nee wag, laat hierdie ou tannie nou eers gaan slaap. More sal ek die mannetjie bel dat hy my kom verduidelik hoe om goed in te scan, waar die hakies is , waar net mooi alles op hierdie boksie vol perriwinkle skulpies is. Die seegogga wil tik!

Posted in Aandag! Verbeter die lewe en word 'n mijoener!, Los opdrifsels | Tagged , , | 15 Kommentaar

liewe Lesers

As ek nie besig is om een of ander onhebbelikheid of wilde avontuur met die Goue Vroue te beleef nie( tans is ons besig om die lewe vir ou Jan van Riebeeck te verbeter, of dalk moeiliker te maak daar in 1652), neem ek deel aan ‘n kortverhaal kompetisie.

In die spesifieke kompetisie verlede jaar, was daar 8 uitdunrondtes. Ek is dankbaar om te kan sê dat ek deurgedring het tot die finale rondte, rondte 8, (wat uit 2 hoofstukke bestaan het. Rondte 8 en 9 is saam beoordeel, so ek tel dit as een rondte).

Ongelukkig het ek nou nie hierdie finale rondte gewen nie, maar nou het ek 8 stories om mee te werk. As julle my nie in tydskrite sien nie, gaan ek ‘n e-boek maak, maar erens gaan hierdie stories gepubliseer word. Daaroor is ek baie dankbaar.

Soms is ‘n mens bang om te waag. Of te lui. Of albei. So was ek met hierdie kortverhaalkompetisie. Tot ek die dag voor die eerste sluitingsdatum besef het: As ek nie nou  iets doen en deelneem nie, gaan ek dit nooit doen nie. Ek het ingespring en begin werk ( want alles wat die moeite werd is, kos ‘n bietjie werk). ‘n Kwartier voor die sluitingstyd ( 12-uur, middernag, van die spesifieke dag) is my storie toe in. Ek was heel verras toe ek deur is na die volgende rondte, en die volgende rondte, en die volgender rondte, ens.

In die proses het ek geleer, ek kan. Ek moet sê, die avonture saam met die GOUE VROUE het regtig so gehelp. Ek glo ek sal nou ‘n boek kan skryf as ek my hart daarop sit. Vroeër het ek nie geglo dat ek dit sal kan doen nie

So wat is die lessie?

“Never give up! “

Aanhouer wen!

Glo in jouself!

Roer jou gat en doen iets!

Arbeid adel!

Carpe Diem!

Niks is onmoontlik nie!

Ja daar is seker nog lewenslesse, maar hierdie is al waaraan ek nou so vining kon dink. Baie dankie  aan die admin van Storieskrywers, en baie dankie Goue Vroue!

Die van julle wat graag ’n Wilde avontuur van die Goue vroue wil lees, daar is twee gratis e-boeke om te lees:

Klik hier om ons 2 gratis d-boeke te kry.https://dwtr67e3ikfml.cloudfront.net/bookCovers/96914b85136eb331a91c1fa3a98b35a7994e6fce

Liefdegroete

Seegogga

9 Kommentaar

Drama in 1600+ Deel 4 van ons avontuur

Die Goue Vroue is ‘n groep vindingryke dames wat wonderlike avonture saam beleef in die kuberruim. Kliek op die volgende link as jy lus is om te loer wat ons hierdie keer aanvang…

https://fresh.inlinkz.com/party/dd0d1dc46eb64ccf9ede0f8f19d43711

“Julle, ons plan werk uitstekend! As Toortsie-hulle hier aankom met die bokke, het ons darem ons goeie daad vir die dag gedoen!” Aalsie begin nou hulle doel hier verstaan. Sy skuif haar rug teen ‘n hoë grafsteen om gemakliker te sit.

” …en kan ons dalk teruggaan na die beskawing toe,” fluister Lolla so by haarselwers. Haar grafsteen is maar plat. Christa knik haar kop. ” Ek stem soo saam!” fluister sy.

“Ek wil nou nie negatief klink nie,” sê Woordnoot, ” maar ons sal daardie bloomer so vinnig as moontlik moet verwyder. As die soldate dit moet sien…”

“Sonell, jy is mos jonk en fiks!” Ekmyself kyk hoopvol na Sonell. “Kan jy paalklim?”

“Ek is onseker…”

“Ek het ‘n plan,” sê Seegogga.”As ons nou my vislyn vat en gooi, kan ons hom mos raakhaak met die hoek…” Seegogga se stem sterf weg. Haar vislyn lê in die een-en-twintigste eeu…

***

In die Fort sit Jan van Riebeeck en skryf in sy joernaal. Hy kyk op en deur sy vensteropening sien hy ‘n eienaardige wit ding hang teen die vlagpaal. Maar dis mos…’n bloomer! Wat gaan hier in sy nedersetting aan?

Hy reël dadelik dat ‘n paar wagte uitgestuur word om ondersoek in te stel. Hierdie onsedelikheid moet in die kiem gesmoor word. Donkergat toe met die oortreders, as hulle gevind word!

Dit begin skemer raak, maar daar is nog geen teken van die jagters nie. ‘n Koel aandluggie begin waai. Die vroue skuif bietjie nader aan mekaar. Die eerste sterretjies skitter al en die maan is amper op.

Frannie wonder wat Silwer nou doen. Waar bly Toortsie-hulle tog?

“Die een ou spook was vet,

en die ander ou spook was maer.

Hulle sit daar in die kerkhof rond,

die hele lot bymekaar!”

Almal lag saggies en begin saam met Seegogga sing. Hulle maak gepaste bewegings op maat van die musiek en VirgoC moet net kort-kort maan dat hulle sagter moet wees.

“En die een lot sê ‘ha ha!’

En die ander lot sê ‘ho ho!’…

Die volgende oomblik hoor hulle ‘n vreeslike geskreeu.

” Spook! Spook! Help!”

Hulle sien verbaas hoe ‘n groepie soldate opspring, hulle wapens neergooi en ooplê terug na die fort toe.

Trommeltjies begin eerste proes van die lag. In die donker skemer lyk al die wye rokke en wit onderrokke nogal regtig spokerig!

Kameel kruip gou nader en gee al die wapens agtertoe vir die goue vroue aan.

“Sjuut! Hoor julle dit ook?” Una wonder hoeveel leeus daar nog hier naby die fort is. Almal hoor nou die geritsel in die gras.

“Ontspan julle, dis ek”. Appeltjie leopard crawl tot by die groepie vroue.

” Scrapy wag daar agter die muur by die perde. Daar het iets vreesliks gebeur. Toortsie en Positief is gevang!”

Posted in feeverhale en ander stories, goue vroue, Los opdrifsels | Tagged , , | 22 Kommentaar

Einde van n heerlike partytjie

Die Goue Vroue is ‘n groepie verbeeldingryke dames wat wonderlike avonture saam beleef in die kuberruim. Hulle het al met ‘n vlieënde tent om die wereld getoer, met ‘n luukse strykyster plesierboot die oseane verken, Jumanji in Afrika gespeel, deur die ruimte getoer, partytjie gehou saam met ABBA en nog baie ander avonture beleef. Hulle woon op hulle eie dorpie, Rebusfontein, waar dit altyd mooiweer is.

Nou gaan hulle partytjie hou op Rebus en wie weet wat gaan gebeur? Ons sal moet wag en sien!

https://fresh.inlinkz.com/party/5330572ab12247dfafd5de0b9c14dd82

Seegogga sit agteroor en verlustig haar in Hauser se lieflike tjello musiek – can’t help falling in love…

Sy sien hoe Camilla en Lorenzo dans, duidelik baie lief vir mekaar. So nou en dan vryf hy liefderik oor haar nog-plat magie en dan lag hulle gelukkig en soen mekaar inniglik.

Seegogga dink daaraan dat sy self verlief is – op Rebusfontein -op die samesyn van die Goue Vroue. Sy vat ingedagte nog ‘n slukkie van Frannie se lekker wyn en hap een van haar bacon wieletjies.

Toortsie kyk Seegogga met opgetrekte wenkbroue en ‘n vriendelike vermanende gesig aan, maar sê niks. Sy wéét Seegogga mag dit nie eet nie.

“Ek weet, Toorts, ek weet! Maar dis al wat ek kan maak. En dit kan nie flop nie… behalwe nou as mens dit verbrand, wat ek eenkeer gedoen het”

“Dis heerlik! Hoe maak mens dit? ” vra Aalsie.

” Wel, n mens koop ‘n rolletjie “puff pasty” ek bedoel blaardeeg, ‘n pakkie bacon en ‘n groot pak cheddarkaas en dan ontdooi jy die deeg, rol dit oop en sny dit middeldeur sodat jy 2 stukke blaardeeg het. Dan vat jy jou pakkie bacon en lê die repies bacon mooi langs mekaar op die deeg om die hele oppervlak mooi te bedek. Dan strooi jy baie gerasperde kaas daaroor en rol die deeg weer op. Nou vries jy daardie twee rollejies tot jy dit nodig het. Later, as dit lekker styf en koud is, vat jy die rolletjies en sny dit in skyfies, so 2cm dik en pak in bakplaatjie en bak teen so 220 grade tot reg. As jy krag het, kan jy dit halfpad deur die bakproses omdraai sodat die anderkant ook kan braai. Ooo hier kom hulle!”

Seegogga spring op en begin handeklap.

‘n Klomp mense met mooi klere stap die langs ons tafel verby en speel ‘n vrolike Strauss wals.

Die mooie dirigent praat oor die afgelope jaar, Covid wat verby is, die wonderlike vooruitsig van vakansie en rus. En Kersfees!

Die Goue vroue knik hulle koppe. Hulle was besig, besig! Hulle het wonderlike avonture beleef. Maar nou is dit rustyd, afskaaltyd, gesinstyd. Volgende jaar se avontuur lê en loer voor die deur. Maar dis volgende jaar, né

Nou is dit eers Kerstyd!

Posted in feeverhale en ander stories, goue vroue, Kersfees, rebusfontein, perfect day, vriende, nostalgie, rhebusfontein | Tagged , , , | 10 Kommentaar

Saamskryf is lekker: Die towerinne en die goue vroue se saamskryfstories op een blog en opgedateer in Oktober 2022

Seegogga se Bloggie

Dit was vir my’n wonderlike ervaring om deel te kon word van ‘n groepie bloggers wat begin saamskryf het aan ‘n gemeenskaplike verhaal.

Dit het spontaan gebeur deur mense wat mekaar meestal glad nie ken nie, en die resultate was skreeusnaaks – spesiaal vir die deelnemers, maar ook hopelik en waarskynlik vir almal wat saamgelees het. Kameel het die idee gegee, en Hester was so oulik om dit op inlinks te plaas.

Dis nou al geruime tyd dat ek die behoefte voel om al die links in een blog te plaas sodat mens maklik by die stories kan uitkom en jou nie dood hoef te soek na watter stories daar beskikbaar is nie.

Dit werk so: Elke storie het sy eie link. As ‘n mens daarop klik, sien jy al die hoofstukke van daardie storie in volgorde. Elke hoofstuk is deur ‘n ander blogger geskryf, en hy moes voortbou op…

View original post 885 more words

2 Kommentaar

12 jaar

Amper mis ek dit- die gelukwense van WordPress. Volgens hulle blog ek al 12 jaar lank. TWAALF!

Dit beteken dat dit in 2010 is wat wat Toortsie my inspireer het om my eie blog te begin.

En hoe het dit nie my lewe verander nie? Ek skryf nou al selfs kortverhale. Ek het heerlik saamgeskryf aan avontuurlustige waaghalsige vervolverhale saam met die Goue Vroue.

Ag daar het baie baie goed die afgelope 12 jaar gebeur en toe ek 10 jaar lank geblog het, het ek alles in detail beskryf. En WordPress het pligsgetrou alles in detail laat verdwyn, sodat al my harde werk daarmee heen was.

En aangesien hierdie ou tannie nou nog 2 jr ouer is, het ek net nie krag om alles oor te skryf nie. Ek is immers baie besig: Ek moet Blommetjie, die psycedelic koei, ‘n bietjie optouch! Ek moet my stories vir tydskrifte stuur. Ek gaan partytjie hou op Rebus!

Na 12 jaar hoef ek nie meer te stres oor my blog nie. Hy survive nog!

17 Kommentaar

Goue Vroue hou partytjie op Rebus

Die Goue Vroue is ‘n groepie verbeeldingryke dames wat wonderlike avonture saam beleef in die kuberruim. Hulle het al met ‘n vlieënde tent om die wereld getoer, met ‘n luukse strykyster plesierboot die oseane verken Jumanji in Afrika gespeel, deur die ruimte getoer, partytjie gehou saam met ABBA en nog baie ander avonture beleef. Hulle woon op hulle eie dorpie, Rebusfontein, waar dit altyd mooiweer is.

Nou gaan hulle partytjie hou op Rebus en wie weet wat gaan gebeur? Ons sal moet wag en sien!

Hierdie is die eerste hoofstuk. Om nog te lees, klik gerus hier:

https://fresh.inlinkz.com/party/5330572ab12247dfafd5de0b9c14dd82

Seegogga sloeg die trappies uit na haar bont stoepie toe. Sy vryf Blommetjie se bont kop in die verbygaan. Jy het ‘n bietjie optouch nodig, dink sy. Sy was lanklaas in haar lewe so moeg. Sy val byna letterlik in haar hangmat in.

Lees voort
Posted in feeverhale en ander stories, goue vroue, Los opdrifsels, rebusfontein, perfect day, vriende, nostalgie, rhebusfontein, Vertelling: Die Juffrou en Lawrence | Tagged , | 6 Kommentaar

I Believe I can fly nr 12

Do you want to have a bird as a pet? Please first read this heartbreaking piece below written by someone who resques birds and put them up for adoption.

Do you know that birds are the most re-homed pets on the planet?

Are you going to be part of this cruel practice – small cages, cut wings, wrong food, lifelong solitary confinement?

If not: are you prepared to have your books, picture frames, antique cupboard doors, your shirt collars and kitchen drawers destroyed? Are you prepared to wipe up birdpoop from your floor, mirrors, pictures and clothes?

Please, please read here before you get a bird for youself or your child.

https://m.facebook.com/groups/732109380225629/permalink/4782371651866028/?sfnsn=scwspmo&ref=share

Why is this acceptable?
Posted in Los opdrifsels, Voels en beginsels: I believe I can fly | Tagged , , | 8 Kommentaar

Liewe Lesers

Liewe lesers

Sjoe, ek het so lanklaas geblog. Dit beteken nie ek het lankaas geskryf nie, né. Eintlik was ek heel bedrywig!

As ek nie besig is om een of ander onhebbelikheid of wilde avontuur met die Goue Vroue te beleef nie, neem ek deel aan ‘n kortverhaal kompetisie. In die spesifieke kompetisie was daar 8 uitdunrondtes. Ek is dankbaar om te kan se dat ek deurgedring het tot die finale rondte, rondte 8, (wat uit 2 hoofstukke bestaan het. Rondte 8 en 9 is saam beoordeel, so ek tel dit as een rondte).

Ongelukkig het ek nou nie hierdie finale rondte gewen nie, maar nou het ek 8 stories om mee te werk. As julle my nie in tydskrite sien nie, gaan ek ‘n e-boek maak, maar erens gaan hierdie stories gepubliseer word. Daaroor is ek baie dankbaar.

Soms is ‘n mens te bang om te waag. Of te lui. Of albei. So was ek met hierdie kortverhaalkompetisie. Tot ek die dag voor die eerste sluitingsdatum besef het: As ek nie nou  iets doen en deelneem nie, gaan ek dit nooit doen nie.

Ek het ingespring en begin werk ( want alles wat die moeite werd is, kos ‘n bietjie werk). ‘n Kwartier voor die sluitingstyd ( 12uur, middernag, van die spesifieke dag), is my storie toe in. Ek was heel verras toe ek deur is na die volgende rondte, en die volgende rondte, en die volgende rondte, ens.

In die proses het ek geleer, EK KAN. Ek moet sê, die avonture saam met die GOUE VROUE,het regtig so gehelp. Ek glo ek sal nou ‘n boek kan skryf as ek my hart daarop sit. Vroeër het ek nie geglo dat ek dit sal kan doen nie

So wat is die lessie?

Wie nie waag nie, wen nie.

Probeer is die beste geweer.

“Never give up! “

Aanhouer wen!

Glo in jouself!

Roer jou gat en doen iets!

Arbeid adel!

Carpe Diem!

Niks is onmoontlik nie!

Jy kan!

Ja, daar is seker nog lewenslesse,, maar hierdie is al waaraan ek nou so vinnig kon dink. Baie dankie  aan die admin van Storieskrywers, en baie dankie Goue Vroue!

Die van julle wat graag’n Wilde avontuur van die Goue vroue wil lees, daar is twee gratis e-boeke om te LEES. Ons was al in baie avonture en was selfs in ‘n naelbyt avontuur in die buitenste ruimte, maar dit is tans nog nie in e-boek formaat beskikbaar nie.

Goue Vroue in Jumanji by Goue VroueLetty-Ann MöllerAdri de KockAntoinette GoosenSan DreyerAnna-Marie Groenewald SeegoggaMadelé BurgerHannelie RaathUna SteenkampCarien Steenkamp, & Ria Fourie

Price: Free! Words: 14,260. Language: Afrikaans. Published: September 29, 2021 by Madelé Burger. Categories: Fiction » Adventure » ActionFiction » Holiday » Humorous

Die Goue Vroue was weer op een van hulle vele wonderlike avonture – hierdie keer in die oerwoud in Afrika. Dit is ’n avontuur gevul met opwinding en gevaar. Adrenalienbelaai. Die dames het soms tuimelend bo-oor mekaar rondgeval, ander kere gillend vasgeklou vir lewe en dood! Op die ou end, soos nog altyd vantevore, het hulle die Jumanji-uitdaging met vlieënde vaandels geslaag.

Goue Vroue in Wonderland by Goue VroueLetty-Ann MöllerAdri de KockChrista van StadenAntoinette GoosenAnna-Marie Groenewald SeegoggaMadelé BurgerUna Steenkamp, & Ria Fourie

Price: Free! Words: 9,510. Language: Afrikaans. Published: September 25, 2020 by Madelé Burger. Categories: Fiction » Fairy talesFiction » Fantasy » General

’n Groepie Towerinne beland in ’n storieboekavontuur. Tydens die ontrafeling van die verhaal ontdek hulle elkeen hulle Goue Eienskap wat van hulle die Goue Vroue maak.

Om een af albei van hierdie boeke GRATIS af te laai en te te lees, klik hier: ( en expect the unexpected!)

https://www.smashwords.com/profile/view/seegogga

Liedegroete.

Seegogga

Posted in Boeke en flieks, feeverhale en ander stories, goue vroue, Los opdrifsels | Tagged , , , | 18 Kommentaar

Rebus, hier kom ons weer!

Rebus, hier kom ons weer!

Die Goue Vroue is ‘n paar besonder vroue wat allerhande wonderlike avonture saam beleef. Hulle het hulle eie dorpie, Rebusfontein, hier erens in Suid-Afrika. Daar word ontspan, Franjeliko gedrink en dis altyd mooiweer. Hulle het pas teruggekeer  van ‘n rit op ‘n luukse seiljag af (waar hulle ‘n ongelooflike avontuur  in die diepsee beleef het), en almal is op pad terug na Rebusfontein toe. Maar ‘n mens weet nooit wat volgende gaan gebeur nie, want waar die Goue Vroue is, gebeur altyd iets!

Hierdie is Hoofstuk twee van ons nuwe avontuur. As jy hierna verder wil lees, klik hier: https://fresh.inlinkz.com/party/5ccd555160b847968834e2d35fc2042c

Seegogga is fluks op pad Kaap toe. Sy is opgewonde. Scrapy het laat weet sy moet haar in Kaapstad kom haal. Gelukkig net betyds, want Seegogga is eintlik op pad Rebus toe en nou gaan Scrapy ook saam!

Terwyl sy ry, dink Seegogga aan die afgelope  tyd. Sy was nog veilig  in haar hangmat besig om ‘n partytjie op Rebus te beplan en toe sy weer sien is sy op die oop see in Camilla en Lorenzo se strykyster luukse seiljag … Seegogga skud haar kop. Die boottrippie was so dramaties dat sy nou skoon vergeet het hoe dit gebeur het. Sy weet net dit was ‘n ongelooflike avontuur. Dat almal veilig  aan wal gestap het, is ‘n wonderwerk. Dit was ook heerlik om die pragtige Camilla en die aantreklike Lorenzo weer te sien.

( Die wat graag hierdie heerlike avontuur wil lees, kan gerus hier klik.https://fresh.inlinkz.com/party/a844ec34c0574957a27ccdce16e2a94d )

Seegogga skud haar kop. Dis verby!  Sy moet nou verder dink aan die Rebus partytjie. Scrapy moet verwelkom word en wat is beter as ‘n lekker partytjie op Seegogga se stoep? Of dalk op die dorpsmeent? Sy dink dit moet ‘n bord en bottel party wees. Elk bring ‘n bord eetgoed wat hulle self gemaak het, miskien moet die resep ook sommer saamkom,  en iets om te drink, en almal eet van almal se eetgoed.  Toorts kan dalk sommer namens Seegogga ook eetgoed maak, dis mos nie Seegogga se sterkpunt nie.

Tannie Frannie kan dalk musikante reël. Una kan almal dalk met ‘n bootjie op die dam laat ry…. Of liewer nie. Dis dalk beter en veiliger op Seegogga se stoepie. Sy wonder of Kameel vir Lorenzo en Camilla gaan saambring en of hulle weer weg is met die seiljag?

Miskien kan hulle ‘n “Onthou jy nog..” partytjie hou. Of dalk ‘n maskerbal. Of sal elkeen dalk weer sy eie gunsteling kuiergas saambring? Maar eintlik is dit  mos Scrapy se verwelkoing, Miskien moet al die troeteldiere ook genooi word. Is Scrapy dan nie ‘n dieresielkundige nie? Sy wonder of dit nodig sal wees om Blommetjie …

Die volgende oomblik spring daar ‘n klop skakers in haar pad en dwing die motortjie tot stilstand.

“Jou kar of jou lewe!” brom die ou wat die rollie teen haar kop hou.

Seegogga laat haar nie maklik afskrik nie, want sy het mos al baie dinge saam met die Goue Vroue deurgemaak.

“Vat julle maar die ou karretjie’, hy‘s in elk geval nie veel werd nie.” Sy klim uit en maak of sy haar sleutel oorhandig, maar gooi dit agteruit in die koringland in. ( Nou hierdie is natuurlik Seegogga, né, nie Anna-Marie nie, want Anna-Marie se sleutels sou langs haar voete geval het, maar by Seegoggas is alles moontlik, hulle kan selfs sleutels ver agter hulle in koringlande gooi)

Die rowers skarrel almal agter die sleutels aan en Seegogga  lê oop na plaaswerf aan die anderkant van die pad toe. ( nog iets wat Seegogga kan doen en Anna-Marie nie)

Seegogga lag in haar mou. Die rowers weet nie dat haar ou motortjie se pertrolppompliggie lankal reeds brand nie… En hulle weet nie dat die sjokolade in haar paneelkissie eintlik brooklax is nie…

Die boer op die plaas help graag, maar hy het nou ongelukkig net een voertuig wat hy haar kan leen : ‘n Geroeste ou lorrie met’n eienaardige prent van ‘n leeu aan die agterkant geverf.  

Seegogga spring in. Sy besef dat daar nou nie tyd is om te wonder nie. Sy moet laat waai, of sy is dalk te laat vir Scrapy se skip. Sy  sit voet in die hoek  tot in die Kaapse dokke.

Dis byna 15 Julie, maar Scrapy se boot is vroeër as beplan. Die rit was vir ‘n wonder kalm, Triton en Athena is mos op wittebrood!

Dis heerlik om Scrapy weer te sien! Hulle maak die ou sirkuslorrie se agterste luik oop om Scrapy se bagasie in te laai…en…

Appeltjie, help asseblief hier! Vertel verder.

Lees meer: Rebus, hier kom ons weer!
Posted in feeverhale en ander stories, goue vroue, Los opdrifsels, rebusfontein, perfect day, vriende, nostalgie, rhebusfontein | Tagged , , , | 20 Kommentaar

Die Goue vroue hou vakansie.

Die Goue Vroue is ń groepie bloggers wat saam aan spesiale stories skryf. Indien jy mettertyd al die skrywes saam wil lees, en wil uitvind hoe die Goue Vroue beland waar hulle nou is, gaan loer in op die link:https://fresh.inlinkz.com/party/a844ec34c0574957a27ccdce16e2a94d

****************************************************************************

“Waar is die seekatte dan nou heen?” Appeltjie is met reg bekommerd.

 ‘Ek wonder wat wou hulle vir ons sê?” Vra Una.

“Hulle het iets gemompel van brand, Ek kon nie mooi uitmaak nie.” sê Seegogga. Sy stap na die relings om die kant van die seiljag.

“Haai julle, kom terug! Wat wou julle vir ons sê?” vra Seegogga in haar beste Seekats. Sy weet seekatte se gunsteling kos is krappe, maar dit help nie om nou bang te wees dat hulle haar sal opeet nie. Sy weet sy moet die goue vroue red.

Seegogga hang oor die reëlings, net om die laaste een te sien verdwyn.

“Ag julle,” roep sy verlig. “Dis nie seekatte nie, dis Architeuthis. Ek bedoeL: reuse inkvisse. Hulle vermoei hulle gelukkig nie met klein ou seegoggatjies soos ek nie.

“ Hulle hou van groot visse. Hulle het dalk gedink ons is ‘n spermwalvis, want spermwalvisse eet weer die inkvisse. En toe het hulle ons probeer aanval,” sê Lolla wat weer Dolfyns kan praat.

“Ek glo nie. Ek dink hulle wou ons waarsku!” roep Seegogga toe sy afkyk. “Kyk daar!”

Al die goue vroue hang oor die reling en kyk na die vreemde pienk gloed onder die  skip. Lorenzo stap houtgerus nader om te kyk wat aangaan.

‘’Fire!” roep hy uit. “Our yacht she has de fire! She is burning!” Ouick-quick come help!” Hy storm ondertoe.

“Dra julle buffies soos maskers, mense, rook is baie skadelik vir die longe”, beveel VirgoC.

Seegogga onthou nou dat sy die strykyster boom aangeskakel het op “Linen”toe die skip ingesuig word. Hitte styg mos op. Dit het nie gewerk nie en sy het skoon daarvan vergeet.

Sy weet sy moet iets doen, en gou, maar die kontrole van die skippie lyk nou vir haar erger as haar periwinkle boksie. Watter knoppie moet sy druk om alles ongedaan te maak?

Gelukkig stap Toortsie net toe daar in. “Ek kom nog brandblussers soek.” Sy maak  kasdeurtjies oop. Die goue vroue spuit om die beurt al die brandblussers wat hulle kry uit in die onderste ruim van die skip.

Seegogga vertel haar wat gebeur het en in Toortsie se kop broei ‘n ander plan. Sy druk ‘n paar knoppies en daar trek die skippie weg in ‘n duisligwekkende vaart. Toortsie het nou oorgeneem by die skipper, wat ook af is ondertoe om te help. Intussen het die wind opgesteek.  Sy weet presies waarheen om te gaan. As die brandblussers nie werk nie, sal die Suidoos en Toortsie se knoppies saamwerk.

“O, dit voel amper soos Silwer se motorfiets!”, juig Frannie, wat bietjie boontoe gekom het om asem te skep. Camilla kom in met heerlike koue water as lafenis.

Almal werk mooi saam en net toe die brand onder beheer is, voel hoe hulle hoe die skip ruk en toe stilstand kom. Die goue vroue kom een vir een dek toe en staar grootoog na die spierwit toneel wat hulle begroet.

So ver hulle kan sien is daar net spierwit ys en sneeu.

“Ek het ons na die koudste plek toe gebring wat ek ken. Die Noordpool.   Hopelik vries die vuur,” sê Toortsie trots.

Net toe kom Lorenzo boontoe. “The fire she died.” Hy sug moeg. Hy lyk soos ‘n Romeinse gladiator met die roet op sy kaal gespierde bors en boarms en op sy wange . Camilla omhels hom liefderik. Gou – gou is sy by met glasies franjeliko as troos en lafenis vir almal.

Ek dink ons het eerder witblits nodig, dink Seegogga. Sy begin al klaar koud kry. 

“Het een van julle dalk vir my ‘n trui om te leen? Ek het net my kostuum hier,” sê Woordnoot.

“Ons ook! Wat gaan ons doen?” vra Christa, Ekmyself en Kameel gelyk.

“Ek het darem rooi Lipstiffie,” sê Sonell. “Asof die nou sal help.”

Dis een plek waar my broodjies dalk ook nie gaan werk nie, dink Frannnie en bibber.

Aalsie, ons sit in n baie koue panarie. En die tyd raak min om Triton te vind. HELP!!

 

25 Kommentaar

telefoonoproep na Rebusfontein

Dit word  skemer op Rebusfontein. Die voeltjies sing pragtige aandliedjies. Die Goue Vroue sit elkeen met ‘n glasie wyn op Seegogga se bont stoepie, en kyk hoe die son agter die bome sak. Op ‘n tafeltjie is die eetgoed wat almal gebring het. Daar is banting muffins, biltong, vrugte en neute, maar daar is sowaar ook kaaskoek en tiramisu. Eenkant staan ‘n botteltjie Franjeliko.

“Ek wens so ons kan weer partytjie hou,” sug Seegogga. “Ja, soos ons Abba partytjie!” Toortsie spring op en gooi ‘n paar passies terwyl sy “Dancing Queen “ neurie.

Die ander vroue lag heerlik saam. “Die snaakste was toe ou Pierce Broseman per ongeluk Virgo C se groenblare eksperimente geëet het, in plaas van die quacamole wat sy vir ons partytjie gemaak het. “Hy kon amper nie opstaan nie, so het hy gelag. Hy moes hom so aan die verhoog se traliewerk ophys!” Woordnoot  eet nog ‘n stukkie Tiramisu.

‘En wat van Appeltjie? Sy was heeltyd aan sy sy, soos ‘n goeie ambassadeur betaam, maar ek sê julle,sy  kon ook net nie ophou giggel nie!”

Die Goue Vroue giggel van vooraf. Una skink vir elkeen nog ‘n glasie, maar VirgoC verkies haar rooibostee.

Meteens lui daar ‘n telefoon. ‘n Telefoon op Rebusfontein? Dit kan mos nie wees nie? Die Goue vroue hou op met praat en kyk rond. Dis Seegogga se telefoon wat so lui!

“Goeie middag?” antwoord Seegogga. Skielik sit sy  regop in haar hangmat.

“Ekskuus? ‘n Storie.”

Die stem aan die anderkant is welluidend en warm. Seegogga voel hoe die bloed vinniger deur haar are vloei.

“Ek is ongelukkig nie nou tuis nie. Waar? Op Rebusfontein. Ag jy sal tog nie verstaan nie.”

Die stem praat sag en rustig. “Ek sal probeer, regtig. Vertel my van Rebusfontein.

Seegogga vertel. Sy vertel van die groepie dames wat saam begin blogstories skryf het. Elkeen het sy eie blognaam.

Sy vertel hoe hulle in die blogwereld die perfekte misdaad gepleeg het toe hulle die verlore krugermiljoene ontdek en gesteel het. Sy vertel hoe hulle hulle slap gelag het vir mekaar se manewales en snaakse idees.

Die goue vroue beaam en luister saam.

“Dit klink vir my wonderlik! Vertel nog!”

Sy vertel hoe hulle uiteindelik  hulle eie dorpie gekry het: Rebusfontein, en hoe hulle elkeen hulle eie huisie daar gekry het, hoe hulle met ‘n vlieënde  tent om die wereld getoer het en hoe hulle Jumanji saam met Tarzan gespeel het.  Dit was in die Covid-tyd.

“En ek kry toe mos ‘n pasgebore wildebeeskalfie” lag Trommeltjies.

“Ja, toe Trommeltjies op ‘n blouwildebees ry, kalf díe mos. En die krokodille vang die ma, nou maak Trommeltjies die kalfie groot, hier op Rebus. O-ja, En dan het Kameel mos ‘n bont koei – een met al die kleure van die reënboog…”

As hulle geld nodig gehad het, het tannie Frannie hulle gered met haar broodjies vol diamante en goud – deel van die Krugermiljjoene.

“Ons het al tweekeer deur Suid Afrika getoer – eers met ‘n giggelgroen bus en toe met so ‘n perspienk bus wat kon vlieg ook”. Seegogga giggel. “Die polisie dink ons is gevaarlike wesens van die buitenste ruimte.”

“Julle klink vir my na ‘n wonderlike groepie vroue. Is dit nou alles in julle verbeelding?”

“Wel-ja en nee. Niks is regtig nie , en Rebus is ‘n denkbeeldige dorpie. Maar vir ons is Rebus nogal baie werklik. Veral in die Covid tyd was dit ‘n lafenis om hier op Rebus te kom rus. Dis moeilik om te verduidelik. Maar hier is vrede, en humor en avontuur.”

“Dit klink na ‘n wonderlike plek. Vertel my nog van julle avonture?”

“Ons was al in ‘n haasgat af en het daar ‘n koninin gered en ons was buitenste ruimte toe ook. Dit was vreesaanjaend, want party van ons is gekaap. Maar end goed, alles goed.

“Onthou ek het op die maan gaan tango, né!” roep Frannie.

Ja, na  ‘n tango op die maan saam met Silwer en sy motorfiets waarmee hy in die ruimte kon ry, het ons almal weer veilig op Rebus geland.”

“En nou gaan ons op ‘n reuse strykyster op die oseane vaar!” Una is sommer baie opgewonde. Die ander towerinne gesels ook lustig saam.

“Seegogga, het julle al ooit mooi stories gemaak oor telefoonoproepe?” Daar is ‘n tergklankie in die mooi stem.

“Nee, maar ek is seker ons sal kan! Gee net kans”. Seegogga frons. Dis nou ‘n vreemde versoek – en dit nogal van iemand wat nog nooit op Rebus was nie.

Seegogga skud haar kop. Dis al asof daar iets is wat sy moet onthou.

Die goue vroue lag en gesels, want op Rebus is daar niks wat jou ontstel nie, selfs nie eers ‘n telefoonoroep nie.

“Seeggogga, is jy nog daar?” Die mooi stem aan die anderkant is nog daar. Sy hou so van hom, maar sy wens hy wil weggaan.

“Ek bring vir jou ‘n bietjie koffie, my lief.”

Sy skrik. Koffie? Op Rebus? Sy luister steeds na die pragtige voeltjiegesang, maar sy sit nie op haar Rebushuisie se stoep nie, sy sit in haar sitkamer op Bredasorp. Voor haar staan haar man met ‘n koppie koffie in sy hande.

“Ek geniet jou Rebusstories, my lief, maar dis tyd dat jy jou storie skryf, Anna-Marie, daar is nog net ‘n dag oor. “

Sy wens so sy was nog op Rebus. Die goue vroue sou haar gou gehelp het. Sy weet sy moet ‘n storie skryf .Dis vir ‘n kompetisie. Die tema  moet wees: Die stem aan die anderkant van die telefoon. En sy kan aan niks dink nie.

“Nee, dis nie waar nie”, né. Jy het ‘n klomp idees neergeskryf. “Haar man praat mooi met haar.

Sy dink aan die mamma wat jare laas van haar verlore dogter gehoor het, en toe bel die dogter een dag. Sy dink aan die afperser wat iemand bel en afpers. Daar is ook die persoon wat die nooddienste bel en dan sy storie vertel en hoe hulle hom help. Of dit kan iemand wees wat vir jou bel en vertel van die miljoen wat jy gewen het. Of dit kan ‘n verlore liefde wees wat weer jou opgespoor het….Haar dogter het vir haar gesê sy moet ‘n oproep van haar alter-ego kry. Die moontlikhede is eintlik eindeloos.

“Seegogga…Anna-Marie!’

Sy hoor sy mooi stem, sy geduld. Sy weet dat daar vir haar geen ander stem aan die anderkant van die telefoon kan wees nie. Dis net hy – haar man, haar geliefde. Hy is die stem aan die anderkant van die telefoon… aan die anderkant van haar lewe. . Nou en vir altyd.

Sy sleep haar rekenaar nader en begin skryf.

Posted in feeverhale en ander stories, Los opdrifsels, rebusfontein, perfect day, vriende, nostalgie, rhebusfontein | Tagged , , | 13 Kommentaar

TERUG NA REBUSFONTEIN

Seegogga sit voet in die hoek.  Sy moet op Rebusfontein uitkom!

Seegogga het ‘n rowwe paar weke agter die blad. Eers het sy ‘n groot funkie vir meer as 40 mense gereel – ‘n Italiaanse aand, kompleet met ‘n Italiaanse sanger, Spagetti en ander Italiaanse kosse, en kleredrag uit die 50erjare van die Mafia en Sophia Loren.

Toe kry sy Covid. En toe laat haar caterer haar in die steek, 2 weke voor die funksie. Seegogga ry sommer ‘n bietjie vinniger.

Gelukkig het die egte Italiaanse shefs haar toe uitgehelp. En gelukkig het sy op die laaste oomblik ‘n prag uitrusting gekry wat haar mammie jjare gelede gemaak het, en wat toe gelukkig nog pas. Mnr Krap het vir hom ‘n egte hout speelgoed tommygun gemaak, die sanger het mooi gesing, alles het heel goed uitgewerk

Maar toe tref die moegheid Seegogga. Sy wil net heeldag in haar seegrasbedjie opkrul ipv raam. En sy is agter met raam! Vir die VLV moet sy prentjie skilder en ‘n skinderbrief skryf – ‘n nare ou skinderbrief!

Seegogga weet daar is net een plek waar sy regtig kan rus. Rebusfontein!

Sy ry die dorpie binne. Daar is Blommie, die bont koei! Daar lê haar Rebushuisie in die sonnetjie. Die hangmat hang sowaar nog op haar bont stoepie. Dit voel vir Seegogga of sy jare laas hier was.  Hoe het ons almal so besig geraak dat ons nie tyd gehad het om Rebus toe te gaan nie?” Wonder sy.”

Seegogga pak uit: vrugtekoek, fyn teekoppies, maar sy sit ook haar botteltjie rooiwyn, franjeliko, en ‘n  pakkie donker sjokolade eenkant op ‘n tafeltjie neer. Haar Italiaanse aand foto’s sit sy ook daar naby neer.

Toe kyk sy rond. Waar is almal? Hoekom lyk die huisies so toe? Net toe sy begin bekommerd raak,  sien sy iemand langs die dam stap. Maar dis mos Frannie!

Seegogga hardloop haar tegemoed. Frannie vertel hoe almal by hulle ook so siek was. Dis niks lekker nie. Sy lei Frannie terug na haar bont stoepie toe, en skink vir hulle  ‘n koppie tee.

” En kyk wat het ek spesiaal vir jou gebring, Frannie!” Seegogga vou die tinfoelie oop: “‘n Heerlike vrugtekoek!”

“Ek wonder waar is almal heen” sug Frannie.

“Die lewe gebeur, Frannie, hy is besig!”

“Ja, maar….”

“Toemaar, Frannie, die Goue vroue sal weer kom , een vir een. En dan gaan ons  reünie hou – of party! “

Frannie en Seegogga sit ‘n oomblikkie stil op die stoep in die sonnetjie. Die voeltjies kwetter rustig. Op die gras naby die dam wei ‘n blouwildebees kalfie en die bont koei.  In die water dryf ‘n seekoei. Verder af jaag die honde mekaar van pure plesierigheid.

“Dis lekker om weer hier te wees!” sê Seegogga en Frannie byna gelyk.

“Ek wonder wie gaan volgende kom?”

“En wat gaan hulle saambring?”

13 Kommentaar

50 years ago

So unexpectedly it happened.

The clock turned around again. Another year went by, another decade and suddenly, 50 years have passed.

50 years ago I met you. And even today, 50 years later, I have not forgotten the impact.

3 Kommentaar

Om partytjie te hou

Seegogga rol rond en draai in haar perlemoen bedjie. Haar seegraskombersie lê deurmekaar daar naby haar pootjies. Sy rasper, sy roer spagetti, gooi olyfolie by die bacon en woel en werskaf in haar gedagtes. 

RSG het gister gesels oor herhalende gedagtes en hoe ‘n mens dit kan bekamp. Duidelik werk dit nie vir ‘n seegogga nie.

Sy wonder hoekom sy haar nie by haar lees gehou het nie. Seegogga kan teken! Sy kannie kosmakie!

Sy weet sy het ‘n baie oulike kosmaker gekry. Maar nou is Seegogga mos weer verkeerom, nes haar pa destyds.

Sy soek nie maklike bolognaise nie, sy soek carbonara! Sy soek nie ‘n prim en propper tuna kelkie nie, sy soek parmagiano melazane! Sy wil ook nie sjerrie hê nie, sy soek Zinzano!

Gaan hulle genoeg eiervrug kry,? Gaan hulle roereier eet of carbonara? Pecorino of parmesan? Baie knoffel of min knoffel? Gaan hulle in individuele bakkies bak of familie bakke? Waarmee gaan almal eet? En op wat? Wie gaan die goed opdra? Wie af? Wie? Wat? Wanneer? Hoe laat?

Seegogga se kop draai. Sy kan snags nie slaap nie, sy kan bedags nie raam nie, eintlik kan sy niks doen nie, behalwe om geld uit te gee.

Gister het sy glad ‘n nuwe yskas gekoop… én n nuwe stoof! ( Toegegee, dis omdat haar yskas in die begin vd jaar al gebreek het en die stoof jare gelede al eintlik vervang moes word, maar nogtans!)

Nou lê sy en tik op haar periwinkleskulpies, iets wat sy baie lanklaas gedoen het. En dis lekker!

Seegogga besluit dat haar gaste maar dit moet vat soos hulle dit kry. Sy hoop net nie hulle bly sit soos verlepte hoenders heel aand by die tafel nie. Sy hoop hulle spring op en gaan gesels met mekaar en gaan dans en gaan mal.

Sy hoop… maar hier kom mnr. Krap aan met ‘n warm bruin oggendsappie.

Seegogga vou haar perriwinkle boksie toe. Sy sal later verder wonder.

Posted in feeverhale en ander stories, Kossies vir 'n seegogga en ander resepte, Los opdrifsels, Seestories | Tagged | 16 Kommentaar

Die tale wat ons praat: Heerlike Afrikaans

Dinge gaan vinnig en die afgelope paar jaar het daar soveel nuwe Afrikaanse woorde ontstaan. Sommige word sommer algemene gebruik, bv grendeltyd.

Daar is baie en julle sal my moet help opnoem.

Maar gister staan ek in Struisbaai se OK se ry na die betaalpunt toe.

“Verskoon my net ‘n oomblik” sê die dame voor my skielik. Sy swenk links en begin die sjokolades aan daardie kant aandagtig deursoek.

” Lus vir ietsie lekkers, né,” sê ek.

En die dame agter my haak af en sê: “Ek noem hierdie stukkie gang mos die verleiry.”

Verleiry! Wat ‘n pragtige woord vir daardie stukkie met al sy lekkernye voor alle supermarkte se betaaltoonbank!

En daar staan ons, 3 wildvreemdelinge vir mekaar, heerlik aan die saamgiggel in die verleiry.

Ken julle ook sulke nuwe woordskeppings? Noem dit hier asseblief!

( En knyp maar die oë toe in daardie verleiry!)

Posted in die tale wat ons praat, Los opdrifsels | Tagged , , , | 12 Kommentaar

Geseënde Kersfees!

Hier waar ek om byna middernag in my bed sit, wonder ek- waar is die tyd heen? Die jaar lê op sy rug, die raamwerk is afgehandel, die vakansiegangers in, maar steeds skarrel ek rond.

Dis tyd om op te hou jaag en stil te word. Ek hoop ek kry dit reg. Ek hoop júlle kry reg!

Mag julle almal ‘n wonderlike geseënde Kerstyd ervaar, en vol van God se seën en liefde.

Posted in Kersfees, Los opdrifsels | Tagged , , , , , | 14 Kommentaar